Swem

By Hoërskool Montana is swem meer as net ’n sport - dit is ’n geleentheid vir leerders om hul talent te ontwikkel, dissipline aan te leer en deel te word van ’n dinamiese span. Ons beskik oor ervare afrigters wat swemmers deurlopend ondersteun en ontwikkel, met gereelde oefening deur die jaar.

Die amptelike swemseisoen strek van September tot Februarie en bied aan leerders volop geleenthede om hul vaardighede te slyp en te presteer.

Die swemjaar begin met ons jaarlikse interhuisgala in September, waar huise teen mekaar meeding om die sterkste span te bepaal wat die skool verteenwoordig. Gedurende die vierde en eerste kwartaal neem ons swemmers deel aan aflos- en vriendskaplike galas, wat waardevolle ervaring bied ter voorbereiding vir die interhoër.

Hoërskool Montana beskik ook oor ’n gevestigde swemklub by die skool wat ekstra en gespesialiseerde oefening moontlik maak vir swemmers wat hul potensiaal verder wil ontwikkel.

Ons is trots daarop dat ons swemprogram in 2025 deur Swem Suid-Afrika as ’n High Performance Centre aangewys is en dat ons in 2026 aan die A-bond Swem Interhoër deelneem. Hierdie erkenning weerspieël die hoë standaard van ons afrigting en die toewyding van ons swemmers.

Ons swemmers se prestasies spreek vanself. Ons het twee swemmers wat aan die Suid-Afrikaanse Oopwaterkampioenskappe deelneem, twee wat aan die Swem Suid-Afrika Nasionale Jeugkampioenskappe deelneem en twee wat aan die Swem Suid-Afrika Nasionale Juniorkampioenskappe deelneem - prestasies waarop ons besonder trots is.

Daarbenewens neem verskeie van ons swemmers deel aan die Vlak 3 Streekskampioenskappe, wat hul toewyding, harde werk en passie vir die sport bevestig.
Hoërskool Montana is ook aktief betrokke by die ontwikkeling van swem in ons gemeenskap. Jaarliks in Maart bied ons die Montana Guppy Gala vir omliggende laerskole aan - ’n geleentheid wat jong swemmers aanmoedig om hul talent te ontdek en die sport verder te geniet.


Ons nooi alle jong swemmers uit om deel te word van die trotse swemtradisie van Hoërskool Montana. Met uitstekende fasiliteite, toegewyde afrigters en ’n kultuur van harde werk en prestasie streef ons daarna om elke swemmer te help om sy of haar volle potensiaal te bereik. Kies Hoërskool Montana as die toonaangewende skool vir swem in die noorde van Pretoria - ’n plek waar talent ontwikkel word, geleenthede geskep word en waar ons saam na hoër hoogtes streef.

Vir meer inligting, kontak me. Liza van Niekerk (lvanniekerk@hsmontana.co.za)  

Straatadres